|
'n
Kakkerlak is een van die insekte in die diereryk wat die vinnigste
aanteel en boonop die vermoë het om te oorleef in ongelooflike
omstandighede. (Was dit dan nie die enigste dier wat die atoombom
oorleef het nie!?) Al wil ons dit eerder ontken, weet meeste
van ons dat hierdie grillerige diertjie 'n kalant is wat hom
nie maklik laat uitroei nie! Dit was juis hiérdie eienskap
van 'n kakkerlak wat my aan my taal en die stryd waarin ons
ons bevind, laat dink het en ook laat besluit het om 'n tydskrif
vir Afrikaanse boeke en skrywers Kakkerlak te noem. Is u lief
vir die Afrikaanse taal, kuns en kultuur? Hou u van Afrikaanse
boeke? Wil u weet waar Afrikaanse skrywers gebore en getoë
is en wat hul "tiekel" om te skryf? Ja - ons gesels elke keer
met 'n skrywer van formaat en gaan besoek boonop sy/haar dorp
van herkoms! So sal die klein dorpies van ons land ook weer
kan begin blom en op die voorgrond tree - soos gebeur met
Edenburg in ons eerste uitgawe. Sorg dan dat u vandag nog
'n Kakkerlak in die hande kry! Die nuwe tydskrif oor boeke
en skrywers! In B5 grootte - volkleur en in glans - vir die
lekker lê-en-lees en vir maklik bêre-sonder-omval!
Ontmoet ook nuwelinge wat skryf en
dig in Afrikaans. Kom lees wat sê die kundiges oor HOE om
te skryf en hoor sommer by wyse van spreke uit die perd (ag
ek bedoel uitgewer) se bek hoe om te publiseer.
Ons kuier om die beurt by lees- en
skrywerskringe oral in die land en beskryf hulle doen en late.
Die ou skrywers is by ons nie vergete nie - ons stof weer
hul boeke af en verlig die Africana. Ook die spreekwoorde
word deur middel van illustrasies verduidelik, sodat dit weer
deel van ons leefwêreld kan word.
Skryf is maar een vorm van kuns en
omdat so baie kunstenaars nie net skrywers is nie, maar terselfdertyd
soms ook liedjieskrywers, skilders of sangers, het ons besef
dat die kunswêreld nie tot skryf beperk kan word nie. Daarom
word daar ook plek gemaak vir ander kunsvorme en ons voer
ook onderhoude met skilders, beeldhouers en ander kunstenaars.
Hou Kakkerlak maar dop: bo en behalwe ons skrywers het ons
land wonderlike kunstenaars met groot talent!
Die
tweede uitgawe is bekendgestel by die KKNK 2005 en verkoop
by die duisende! Ons berig ook daarin oor die geliefde skrywer
Dalene Matthee, wat in Mosselbaai oorlede is. Sy het bekendheid
verwerf vir die skryf van haar bosromans, Kringe in n bos,
Fiela se kind en Moerbeibos.
In hierdie uitgawe verskyn resensies
oor 'n verskeidenheid boeke wat oor bobbejane handel en oor
dekades geskryf is, en onder hierdie boeke val ook Dalene
Matthee se boek Susters van Eva. Elkeen van haar boeke getuig
van deeglike navorsing, ongeag die onderwerp wat sy sou aanpak.
Die nuutste boek oor bobbejane, Bôgom deur Attie Gerber, met
die pragtigste fotos oor hierdie mensvriende, word in diepte
bespreek en ons het ook gesels met die skrywer/fotograaf van
hierdie boek, uitgegee deur Lapa Uitgewers.
Watter impak het die skrywer Langenhoven
vandag op ons taal? Ons maak 'n draai by Arbeidsgenot, die
woning waar Langenhoven en Vroutjie, (soos hy sy vrou genoem
het), jare gelede gewoon het op Oudtshoorn en soos sy huis
(wat tans 'n erkende museum is) vandag nog bekend staan. Ander
ou skrywers, soos die Hobson-broers se werke word ook afgestof.
Skilder/Digter Hanlie Kotze (ook bekend
as die Flying Artist) word ook aan u as leser bekend gestel
deur die bekende gallery Alice Art Galery wat by meeste kunskenners
geen bekendstelling nodig het nie.
Kinderboekskrywer Martie Preller die
ma van die kleine Babalela en Balkie kom deel hierdie keer
haar wenke aan alle aspirantskrywers - DIE ABC VAN SKRYF -
moet dit nie mis nie uiters kreatief!
In die 3de uitgawe pryk pryk Ingrid Jonker - geliefde
digter uit die sestigerjare op die voorblad. Lees ook die
volwaardige huldeblyk oor haar en reis saam na die dorp waar
sy die eerste lewenslig aanskou het.
Die skepper van die gewilde Fanie word
grootwildjagter kry 'n ereplek in die Africana-afdeling: -
die nimlike PJ Schoeman, liefhebber van die bosse. Boonop
is een van sy boeke pas herdruk by Protea Boekhuis: Dagboek
van 'n wildbewaarder. Alles oor PJ Schoeman in Kakkerlak nr.
3.
As mens van oorlogsromans praat, is
Jeanette Ferreira se naam sinoniem daarmee. Boeke soos Charlotta,
Babette en Catharina is nie verniet so skaars soos hoendertande
nie. Leer ook meer van dié gevierde skrywer wat tans werk
as redakteur en uitgewer by Human & Rossouw. Sy was ook die
redakteur van André P. Brink se nuutverskene boek Bidsprinkaan
oftewel hottentotsgot as mens die HAT sou nadersleep. Van
woordeboeke gepraat, indien jy nie 'n HAT het nie, vul die
blokraai in en dalk is een van die weggee-woordeboeke of Elektroblok
sagteware joune.
Skilder Glendine wys vir ons haar vuurwarm
werke van windpompe en verlate huisies en heuwels. terwyl
ons ook meer kan lees van die nuwe fliek, Ouma se slim kind
wat Suid-Afrika eersdaags gaan liries maak. Akteurs soos Quinn
Brown, David Minnaar en sanger Lucas Maree het geen bekendstelling
nodig nie en verras ons eersdaags in dié eg Suid-Afrikaanse
film.
Moenie vergeet om ons nuwe tienermedewerker
van Helpmekaar College in Johannesburg te ontmoet nie. Dié
vurige meisiekind kan nie net op die verhoog haar man staan
nie, maar kan skryf en sing ook. Sy verteenwoordig nou boonop
ook ons tydskrif by die tieners. Stuur julle skryfwerk vir
Margaux Stevens!
Die 4de uitgawe laat groot taal
ghoeroes soos N.P. van Wyk Louw, Hettie Smit en Carl Boplaas
van der Merwe weer herleef.
Baie simbolies pryk N.P. van Wyk Louw
en Hettie Smit dan ook op die voorblad saam met wit lenteblommetjies
- wat hulle stele sterk deur ‘n dorre, bar landskap gestoot
het om in meteoriese glorie die pennevrug van hul arbeid ten
toon te stel. Die koms van die 4de uitgawe van Kakkerlak,
teen ongeveer die 22ste November 2005, gaan saamval met die
koms van die sekelmaan. Lees meer oor die polemiek rondom
Sy kom met die sekelmaan wat Hettie Smit se groot treffer
oor onbeantwoorde liefde was.
Daar word ook rondgedwaal in die stowwerige
grondstrate van Sutherland waar die Louwhuis geleë is. Saam
met die welriekende bossieveld se wind, klink fluisteringe
van ou stemme wat vir ewig stil geraak het, weer op. Dis die
stemme van N.P. en sy broer W.E.G. Louw wat hulle duiwe smiddae
laat sirkel het om die hoë N.G. kerktoring van Sutherland
en ure agter die skape in die veld gedwaal het. Hul poësie
sou word soos fyn glaswerk, deursigtig, met ‘n baie soepel
en suiwer woordkeuse binne ‘n goed versorgde versvorm.
Die werking van SAGT/SALT (Suid-Afrika
se groot teleskoop by Sutherland se observatorium) word ook
breedvoerig en interessant uiteengesit met die oog op moontlike
skooltake. President Mbeki het heel gepas tydens die amptelike
opening vandeesweek daarna verwys as die "Groot oog van Afrika".
Dis die sterkste optiese teleskoop in die hele wêreld – so
kragtig dat ‘n kersvlam op die maan daarmee waargeneem kan
word.
Kakkerlak kuier saam met Anton Goosen
by Gansbaailapa – dieselfde Anton van wie ‘n skoolsielkundige
in standerd 9 gesê het dat hy geen toekoms in musiek het nie.
‘n Bundel met die keur van sy lirieke het ook pas verskyn:
hitte vannie teerpad…songs van die liedjieboer.
Francois Bloemhof, wenner van etlike
literêre pryse, kom onder die loep met sy grilstories en rillers
vir kinders. Sy hele wye genre van verhale word bespreek en
daar word ook geloer na die mens agter die skerms met ‘n Siamese
kat, genaamd Felino, op sy skoot. Hy hou mos niks van groente
wat jy kan smeer nie want dis nie vir grootmense nie, ag ek
bedoel Nie vir kinders nie (hierdie boek wen onlangs goud
in die Sanlam-prys vir jeuglektuur).
Hans Christian Andersen se 200ste geboortedag
word postuum gevier. In Kopenhagen staar sy beeld met die
treurige oë en ‘te’ groot neus oor die Kongenshawe waar die
Klein meerminnetjie op ‘n rots sit en droewig oor die grysblou
waters tuur. Hy het in sy eie leeftyd Die lelike eendjie gebly
en ten spyte van al die roem nooit gevoel dat hy ‘n swaan
geword het nie.
Op die kunstenaarsfront word na die
lewe en werke van Moses Kottler en Portchie gekyk. Eersgenoemde
was ‘n miskende beeldhouer in sy tyd. Hy toon diep insig in
sy beeldhouwerk en gee ‘n persoon se diepste wese weer in
tekstuur, lig en skaduwee en vlak op vlak. Sy borsbeelde is
goed beplande, lewensgetroue strukture. Die artikel oor Portchie
in sy opvallende pers-blou huis in Stellenbosch is ‘n opwindende,
bont spektrum vir die epikuris. Sy skilderye is vol vrolike,
helder kleure, blomme en blou bome. Sy lewensfilosofie is
nie verniet nie: "As jy R2 het, koop ‘n rand se kos en ‘n
rand se blomme – want ‘n mens het kos vir jou siel ook nodig!"
Met die 5de uitgawe van Kakkerlak in die hand mag jy dalk
voel of jy op 'n nes rooimiere sit. Dis 120 bladsye propvol
interessante leesstof… waar begin mens? Soos die vervaardiger
van Faan se trein tereg opgemerk het: "Die mense vra niks.
Gee hulle nie net brood nie - gee hulle koek!" Hierdie Kakkerlak
met Koos du Plessis op die voorblad is inderdaad 'n hemelse
sny koek wat jou smaaktepels sal laat bokspring.
Die poësie van W.E.G. Louw wat vergelyk
kan word met fyn glaswerk, deursigtig en suiwer, word in diepte
ondersoek en 'n tikkie van sy menswees word hierdeur ontbloot.
Hy het mense oorrompel met sy soepel en subtiele woordkeuses
en staan daarom bekend as die 'wonderkind van poësie' maar
ook as 'die meester van goeie smaak'. Na die dood van sy broer,
N.P. van Wyk Louw, stort hy sy rou, hartseer, verlate skreeue
in Bitter winter uit. Later volg Naggesprek wat ook deurdrenk
is van sy groot verlies: "Ek praat nog soms met jou, maar
in die nag; want die gesprek wat ons 'n lewe lank gevoer het,
word nie sommerso deur die dood afgebreek nie. Maar nou is
woorde skaars; so skaars, dat dit vir ons, vir wie dit altyd
juis om woorde gaan, in hierdie stilte onmoontlik is om weer
mekaar te vind."
Op 'n ligter trant haal ons vir Freda
Linde, die mees bekroonde Afrikaanse kinder- en jeugboekskrywer,
wat pas haar 90ste verjaarsdag gevier het, bo uit die slap
takke van 'n nartjieboom. As kind het sy soos 'n vink aan
die lang, slap takke geklou terwyl die koel westewind haar
hoog bokant die aarde geskoppelmaai het. Sy het grootgeword
op die plaas Bruintjiesrivier naby Bonnievale en meeste van
haar stories het in hierdie 'wonderwêreld van 'n kind se speel'
ontstaan. Beelde in haar boeke figureer uit haar gelukkige
kinderdae tussen vrugtebome, groenteakkers, die veld met sy
magdom wonders en verrassings, langs die ongerepte oewer van
die rivier met sy welige plantegroei en selfs in 'n dreineringsput
waar 'n pofadder sy nes gemaak het! Sy vang die essensie van
só 'n kinderlewe vas: "Hoe gelukkig is die kind nie in sy
eie wonderlike wêreldjie nie - 'n wêreldjie so groot dat dit
die hele kinderlewetjie kan omvat, 'n wêreld so klein dat
niemand behalwe die kind dit self ken nie?"
Dan ja die suidoos ons van agter aan
tot op die wye, oop strande van Melkbosstrand, wat ook die
heimat van Deon Meyer is. Pragtige foto's van Tafelberg met
sy 'beroemde tafelkleed', branderplankryers in dolle vaart,
die see - skuimerig en rof, die ou kanon wat dateer uit die
Slag van Blaauwberg asook verskeie interessante geboue en
kunstenaars komplimenteer die artikel. Deon Meyer, driedubbele
ATKV-Prosapryswenner, se lewensfilosofie is met reg: "As jy
dit kan droom, kan jy dit doen." Hy is een van Suid- Afrika
se beste spanningsverhaalskrywers en het ons verseker dat
hy nie vir 'n muse sit en wag om saggies op hom af te daal
voordat hy kan skryf nie. Deon het sy eerste roman al op 14-jarige
ouderdom geskryf en trek nou al by sy 6de boek. Sy boek Orion
is vir MNet verfilm en sal gedurende Junie/Julie op die kassie
kom met Neil Sandilands (Bart van 7'de Laan) in een van die
hoofrolle.
Kakkerlak stap ook 'n entjie saam met
depressielyers op hul strompel- en seerkrypaadjies en kom
agter hoe maklik dit vir hulle is om in 'die bos' te verdwaal.
Soms sonder dat mense wat regtig na aan hulle is eers weet
dat hulle op 'n verkeerde afdraaipad is! Dié hartroerende
verhaal, deur Sielie Laubscher geskryf, palm 2 pryse in en
is die voorloper van haar boek Donkerbosverdwaal: Belydenis
van 'n depressielyer.
Tussen die baie blaaie is ook die lewensverhaal
van ons volksheld Danie Theron. Die vertelling van die kransie
vir sy liefling, Hannie, se graf is roerend. Sy is dood met
die aanbreek van die oorlog en hy het nooit ophou treur oor
haar nie. 'n Standbeeld van Theron is deur mnr. Nelson Mandela
in 2002 by Fort Schanskop onthul. Die beeld kyk in die rigting
van Gatsrand waar Theron op 28-jarige ouderdom gesneuwel het.
Ander lekkertes is 'n kykie na die
projekte van die Afrikaanse Skrywersvereniging, Kleintjie
die konyndogtertjie (Nijntje) word 50 jaar oud, 'n kontroversiële
kykie na hoe kenners boeke evalueer, 'n besoek aan die Taalmonument
en -museum asook etlike puik opstelle, toesprake en verhale
wat deur skoliere en ons lesers ingestuur is.
Lekker lees. Ek sluit af met 'n aanhaling
deur W.E.G. Louw: "Woorde is die weë na die hart, waarmee
mens tastend na ander mense soek." Mag die Kakkerlak jou vind
en ook met jóú fraterniseer (deftige woord vir "maats maak").
Die 6de uitgawe
Die 7de uitgawe
Die 8ste uitgawe

|