|
RESENSIE
Oorwin plaasaanvalle (foto) / Lukas Swart
Uitgewer: CLS uitgewers
Publikasiedatum: 2003
Prys: Boek: R220-00 (posgeld ingesluit), DVD: R216-00 (posgeld ingesluit).
R370-00 (boek en dvd) – posgeld ingesluit
resensie deur Chrisna van Rensburg
Voorkoming is beter as genesing, lui die spreekwoord. Dit is die oogmerk van hierdie A4-grootte boek, Oorwin plaasaanvalle, wat volgens die outeur eerder moes heet: Oorwin aanvalle in dorpe, stede en op plase, aangesien misdaadgroepe van presies dieselde tegnieke gebruik maak vir aanvalle op plase, dorpe en stede.Die boek is die eindresultaat van meer as 14 jaar se navorsing oor plaasaanvalle in Suid-Afrika.
In die 23 hoofstukke waaruit die boek bestaan word gefokus op verskillende aspekte insake die voorkoming en ontlonting van aanvalle van enige aard (rooftogte, beplande moorde, verkragtings en selfs kapings) asook die verlangde optrede ten tyde van ’n aanval.
Die leser word geleer hoe om te identifiseer wanneer misdadigers jou as ’n teiken beskou en hoe hulle te werk gaan voordat hulle tot die fisiese aanval oorgaan. Die verkenners hou onder andere al jou bewegings vooraf dop, teken alles aan en oorhandig dan al hierdie inligting aan ’n afsonderlike groep misdadigers – bekend as die aanvalspan - wat die fisiese aanval doen.
Die verkenners pak ook sogenaamde Afrikatekens (takke stokke, klippe, blare en letterlik enige ander voorwerp) op die grond uit wat aan die aanvalspan kommunikeer presies wat gedoen moet word en wanneer. Met behulp van die tekens kan die aanvalspan bv. sien of die beoogde slagoffers verkrag, vermoor, vermink, of slegs beroof moet word.
Dié tekens wat ’n intensiewe onderwerp op sy eie is, word net oorsigtelik in die boek behandel. Afrikatekens word ten tyde van daglange kursusse asook met behulp van ’n inligtings-dvd, aan die publiek bekend gestel. Afrikatekens word nie in boekvorm uitgegee nie, aangesien dit soos in die geval van enige taal ’n te omvattende onderwerp is. Om dit op dvd uit te gee sal ook nie deug nie, omdat ongeveer 30 dvd’s benodig sou word om slegs die basiese inligting oor te dra.
Die verskillende aanduidings wat verklap dat verkenners besig is om ’n aanval op jou te beplan en wat volledig in die boek behandel word, staan bekend as gevegsaanduidings. Die boek behandel ook verskillende teenplanne insake die suksesvolle ontlonting van aanvalle (alreeds) ten tyde van die verkenningsfase en ook nadat die Afrikatekens uitgepak is.
Identifisering van die gevegsaanduidings is selfs belangriker as die lees van die Afrikatekens self. Afrikatekens word nie net ingespan vir misdaad doeleindes nie, maar ook vir sosiale aangeleenthede soos sokkerwedstryde, die aankondigings van geboortes, sterftes en partytjies. ’n Mens begin eers op die uitkyk wees vir Afrikatekens nadat die gevegsaanduidings suksesvol geïdentifiseer is.
Indien die inligting in die boek alleen ingespan word om misdaad te voorkom, verleen dit opsigself 94% voorkomingswaarde. Indien daar slegs op die identifisering van Afrikatekens gefokus word as teenvoeter teen ’n beoogde aanval (inligting in boek buite rekening gelaat word), is die voorkomingswaarde daarvan 40%. Indien die twee hulpmiddels (die boek en kursus oor Afrikatekens) gesamentlik ingespan word om aanvalle te voorkom, verleen dit meer as 99% voorkomingswaarde.
Die rede waarom Afrikatekens addisioneel ingespan word in die beplanning van aanvalle - en waarom misdadigers nie bloot die inligting wat tydens voorafverkenning gewerf is, aan die aanvalspan oorhandig nie -, kan toegeskryf word aan verskillende redes. Eerstens opereer misdaad groepe as groot professionele besighede met verskillende leierskapstrukture. Tweedens word aanvalspanne saamgestel uit verskillende individue wat mekaar nie ken nie sodat hulle nie na ’n aanval met mekaar geassosieer kan word nie. Derdens is selfoontegnologie reeds so gevorderd dat die polisie maklik kan identifiseer waar, wanneer en deur wie ’n betrokke selfoonoproep gemaak is – aanvallers kan dus te maklik met die misdaad verbind word indien die polisie van hierdie tegnologiese opspoormiddels gebruik sou maak. Vierdens glo misdadigers dat die tekens aan hulle sekere bonatuurlikte magte gee wat die sukses van die aanval verseker.
Die boek is verbruikersvriendelik geskryf en besprekings word deurgaans toegelig aan die hand van praktiese voorbeelde van werklike gebeure. Daar word verduidelik hoe sommige betrokkenes die aanvalle ontlont het en ook hoe sommige mense se onkunde tot hulle dood gelei het. Teenplanne wat volledig in die boek beskryf word, is van so ’n aard dat enigiemand - selfs weerlose bejaardes tot kinders – dit suksesvol kan toepas. Wat opvallend is, is dat alle teenplanne geweldloos is. Lukas Swart waarsku trouens baie sterk teen die gebruik van enige geweld tydens aanvalle. Gewelddadige of aggressiewe optrede teen aanvallers kan trouens ’n beplande rooftog in ’n moord of verkragting laat ontaard. Om dit te regverdig, verduidelik Swart hoe die psige van die aanvaller werk en hoe om dit tot jou voordeel te manipuleer.
Een troos wat Lukas Swart ook in sy boek weer beklemtoon vir die tye waarin ons vandag leef, is dat ons gerus weer die belofte van God in Lukas 10:9 kan gaan lees en die werklike implikasie daarvan besef as Hy sê: “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets jul enige leed aandoen.”
Die afgelope tien jaar was daar meer as 8000 plaasaanvalle en ongeveer 1680 boere is op hul plase vermoor. Die boerderygetalle in die RSA het van 85000 in 1994 na ongeveer 42000 boere in 2004 afgeneem. Hierdie boek moet dus beslis deur elke man, vrou en selfs kind, gelees word. Trouens, Swart reken dat vroue en kinders geneig is om meer oplettend en skerpsinnig te wees en beweer dat al heelwat aanvalle deur vroue en kinders onlont is.
Hierdie boek is beskikbaar @ R220-00 (posgeld ingesluit) by Maritha Swart, telefoon 082 7850 484 of by www.akska.co.za. Die dvd kos R216-00 (posgeld ingesluit). U kan ook die boek en die inligtingsblad saam bekom teen ’n spesiale afslagprys van R370-00 (posgeld ingesluit).
|